Identiteit

“Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense
wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die
wil van God en wees heilig.” (Ef 4:23-24)

Ek het hierdie Bybelstudieboekie baie geniet. Dit het my weer teruggeneem na ou Bybelse waarhede wat so maklik vergeet word – waarhede wat ons anker in ons unieke identiteit in Christus Jesus.

In die moderne inligting- en kommunikasie-gedrewe wêreld word ons as mensdom nie juis kans gegun om ‘n eie identiteit te ontdek en ontwikkel nie. Sosiale media, gebou op inligtingstegnologie, gaan onder andere volstoom voort om aan ons voor te hou wie ons nou eintlik behoort te wees. Dit het ‘n impak op ons drome, vrese, aspirasies… en ondermyn dikwels die ontwikkeling van ons eie identiteit.

Ds. Johan herinner ons, via hierdie Bybelstudie, aan ons unieke geestelike identiteit in Christus Jesus. Dit bied aan ons ‘n platform vir bespreking waarop ons onsself in die Skrif kan anker aan die kosbare ontdekking van ‘n rotsvaste identiteit in God self.

Die studies sal beslis gesprek aanwakker wanneer die  Bybelstudiegroepe heerlik gaan gesels oor die kinders van God se identiteit. Ek is seker ontdekkings gaan ook gemaak word oor dit wat uniek by kinders van God gesien en uitgeleef word.

Ds. Chris Heunis

*Jy is meer as welkom om die studie gratis af te laai, te gebruik en te versprei, maar moet dit asseblief nie verander of verkoop nie. Indien jy ‘n boekie wil koop, maak gerus kontak deur die Kontak vorm.