Dis Oorlog

Daar is reeds baie boeke en Bybelstudies geskryf oor die onderwerp van geestelike oorlogvoering en die Christen se wapenrusting. Persoonlik het ek ook al van die boeke gelees en na van die DVD’s gekyk. Dit was veral as jong gelowige wat ek ‘n begeerte gehad het om myself voor te berei vir hierdie onsienbare oorlog.

Wat my egter altyd gehinder het, was hoeveel van dit wat die skrywer gesê het buite die Skrif val. Let wel, nie in teenstelling met die Skrif nie, maar net nie meetbaar aan die Skrif nie.

Onderwerpe rondom vloeke, bindings en besetenheid was op so ‘n manier hanteer wat vrees in ‘n mens se hart laat ontstaan het. In hierdie Bybelstudie gaan ons nie kyk na alles wat daar is om te weet rondom die duiwel nie. Nee, hierdie studie fokus uitsluitlik op Efesiërs 6:10-20. Ons gaan poog om te kyk wat sê die Bybel, sonder invloed van buite, oor hierdie onderwerp.

Paulus skryf in 1 Korintiërs 4:6 dat ons moet bly by wat geskrywe staan. “Do not go beyond what is written.”NIV Paulus vermaan die gemeente om by die Skrif te bly en nie buite daardie perke te gaan nie.

Ek vertrou dat die volgende 8 weke werklik vir jou sal help om jou vertroue in die Here te stel terwyl jy uitgedaag word om die oproep tot oorlog te aanvaar.

Die Here seën.

Johan Delport

*Jy is meer as welkom om die studie gratis af te laai, te gebruik en te versprei, maar moet dit asseblief nie verander of verkoop nie. Indien jy ‘n boekie wil koop, maak gerus kontak deur die Kontak vorm.